Agtergrond
Die Volksblad-kunstefees is ‘n vereniging sonder winsbejag. Die eerste Volksblad-kunstefees is in Julie 2001 aangebied as deel van Media24 se kunstefees-inisiatief. Volksblad en die Universiteit van die Vrystaat (UV) tree as vennote op in die organisasie en aanbieding van die fees. Die UV voorsien die teaters en fisiese infrastruktuur vir die feesaanbieding terwyl Volksblad, as titelborg, verantwoordelikheid aanvaar vir feesbemarking en -organisering.
In 2001 is 6 000 kaartjies verkoop. Ongelooflike groei is oor die jare heen getoon en in 2005 is 30 000 kaartjies verkoop. Sowat 300 000 mense woon die fees jaarliks by. Volksblad-kunstefees is naas die Klein Karoo Nasionale Kunstefees en Aardklop die grootste Afrikaanse kunstefees in die land gemeet aan kaartjieverkope. Die kunstefees is ook die enigste fees wat slegs van goed toegeruste teaters gebruik maak vir sy produksies vanweë die uitstekende teaterinfrastruktuur wat Bloemfontein en die UV bied.
Visie
Om die kunste, in al die manisfestasies daarvan, in die sentrale deel van die land te ontwikkel en uit te bou daar te stel.
Missie
Volksblad-kunstefees is ‘n inklusiewe, unieke en genotvolle geleentheid waardeur ‘n belangstelling in en ‘n geesdrif vir die kunste bevorder word en wat ook ekonomiese voordele vir alle betrokkenes en die gemeenskap in die algemeen inhou.
Doelstellings
Volksblad-kunstefees word jaarliks in die winterskoolvakansie aangebied en het ten doel om:
- plaaslike talent te ontgin en geleenthede daar te stel waartydens opkomende kunstenaars saam met gevestigde kunstenaars in feesproduksies kan optree
- skeppende werk in alle kunsdissiplines te bevorder
- kinders en jongmense by die fees te betrek deur die aanbieding van toepaslike programme voor en tydens die fees
- die gemeenskap in die geheel by feesaktiwiteite te betrek
- provinsiale en plaaslike owerhede se volle ondersteuning vir die fees te bekom
- liefde vir lees en die geskrewe woord te bevorder
- belangstelling van die gemeenskap in die kunste te bevorder
- waarde toe te voeg tot die finansiële ondersteuning van borge deur die aanbieding van ‘n fees van gehalte.
- ‘n omvattende bemarkingsgeleentheid aan die Universiteit van die Vrystaat daar te stel.
Bemarking
Volksblad-kunstefees bied die kreatiewe bemarkingsplatform om professionele mans en vroue uit van oral oor die land te bereik.
Ongeveer 300 000 besoekers besoek die Volksblad-kunstefees jaarliks oor ‘n tydperk van vier tot ses dae.
Die Volksblad-kunstefees se feesgangers hou van fees vier, sosiaal verkeer en die kunste.
’n Wye verskeidenheid van bemarkingsgeleenthede word gebied en spesiale pakkette kan vir spesifieke behoeftes saamgestel word.
Adverteer op ons webtuiste
Die groot aantal besoekers wat jaarliks die webtuiste van Volksblad-kunstefees besoek, maak dit die ideale plek vir jou instansie om blootstelling op die internet te kry. Advertensiespasie word aan goedgekeurde instansies gebied.
Stronk - feeskoerant
Stronk – die amptelike koerant van die Volksblad-kunstefees het die eerste keer in 2008 die lig gesien. Dit verskyn elke dag van die fees (Dinsdag tot Saterdag) en bied adverteerders `n uitstekende geleentheid om teen uiters mededingende tariewe te adverteer. Vir meer inligting bel Pieter Steyn by 082-257-1238 of e-pos: Pieter.steyn@volksblad.com
